Die afgelope paar weke was daar ‘n oorweldigende vlaag op sosiale media, facebook veral, waar die publiek gevra is om bydraes te lewer deur betrokke te raak by VLV Kaapland se “Boks vir ‘n Boervrou”projek. En ons land se mense het gegee.
Ek het self ook hierdie versoek gelees en onmiddellik gesien dat daar nog ‘n verdere behoefte is. Vir die eerste maal het ek regtig gedink oor hierdie situasie en het besef dat droogte nie net gaan oor ‘n boer en sy grond nie. Ook nie net oor diere wat voer nodig het nie.
Die boer se vrou, wat staande moet bly om haar man te ondersteun, kry swaar. Sy kinders moet leer om met minder tevrede te wees. So ook sy werkers en hulle gesinne. En hier sit ek, ook ‘n boer se vrou, aan die ander kant van die land in ‘n teenoorgestelde situasie.
Ons boerdery is geseënd. Ja, ons beleef ook ons uitdagings en terugslae, maar ons word steeds bederf deur God se genade. Toevallig dieselfde aand sê my man aan my dat ons dam op die plaas oorloop. Ek dink verder en dieper, eintlik bewoë.
‘n Paar jaar gelede was ons vroue, as lede van VLU Mpumalanga betrokke by ‘n projek van Solidariteit waar daar skoolbenodigdhede ingesamel is vir nuwe graadeentjies. Ek dink terug aan hierdie insameling en besef dis waar ons, Joubert & Seuns, ‘n bydrae kan lewer. En daar het hierdie Novemberprojek ontstaan.
Ek het kontak gemaak met Burre Burger van Droogtehulp en my idee met hom gedeel. Hy het onmiddellik positief reageer en my adresse gegee van noodspense vir hierdie organisasie in Suid-Afrika.
Daar sal in beide die Pad- en Dorpstal ‘n houer geplaas word waarin bydraes geplaas kan word. Ons nooi die publiek om hierdie inligting te deel met al jul vriende, sodat ons hierdie inisiatief suksesvol kan maak. Elkeen van die kleinste bydraes gaan help om ‘n kind iewers in Suid-Afrika te help om 2020 goed af te skop by die skool. Die skenkings sal in Desember aan Burre gestuur word vir verspreiding waar nodig.
Ek wil ook graag ‘n uitdaging rig aan ander boerderye. Ondersteun ons in hierdie projek en deel jul dankbaarheid saam met ons.