Joubert & Seuns is tans in die proses om ‘n versameling antieke ossewaens te restoureer tot hul eertydse glorie. Besoekers aan die bekende padstal geleë in Schoemanskloof, kan nou die pragtige geskiedkundige ossewaens besigtig en ‘n gevoel kry van die era voor motoraangedrewe voertuie.
Hiermee inligting rakende van die pragstukke wat deel vorm van die versameling:
Viersitplek-perdekar
Die pragtige viersitplek-perdekar is in 1893 in Oudtshoorn gebou. Die kar was ‘n verbetering op die aanvanklike tweesitplek-perdekar en kon meer mense vervoer. Na 35 jaar het die familie wie die einste kar besit het, verhuis na die destydse Oranje-Vrystaat waar die perdekar vir ‘n verdere 15 jaar gebruik is. Die kar is gebruik om die familie dorp en kerk toe te ry asook om melk en room na die nabygeleë Rooiwalstasie te vervoer.
Die kar is in 2000 deur Boet Kleinhaus van Potchefstroom gerestoureer en uitgestal in die Potchefstroomse biblioteek. Dit is later in Louis Potgieter se stoor gebêre tot sy dogter, Louise Boden die wa verkoop het aan Joubert & Seuns. Dit vorm nou deel van die pragtige uitstalling by die padstal.
‘Straight Rail’-wa
Die ‘Straight Rail’-waens was uiters gewild in die vroeë 1900’s as vervoerwaens. Dié pragstuk kom van Ventersdorp af waar Joubert & Seuns dit van Retha Calitz gekoop het.
Die 18-voeter wa is in 1921 gebou en is ‘n verbetering op bokwaens wat in die vroeë twintigste eeu ontwikkel is. Hierdie wa is een van die eerste en later baie gewilde ‘straight rail’ waens, met klein, dik en stewige wiele. Die wiele het dit maklik gemaak vir vraglaai, maar het ook meer gelyke paaie vereis. Die aste is van Rigby & Sons, wie vanaf 1888 -1940 wa-aste vervaardig het.
Die voortang is ‘n tolletang en die agterste tolle is vierkantig en vas ingetap in die raam. Die rem is die “Natal”- of slingerremtipe en die gereedskapskissies is besonders lank. Die wa is gerestoureer in Januarie 2019 deur Erik Holm.
Nagmaalwa
Hierdie wa was die 4×4 weergawe van waens. Te danke aan die klopperwa-rat aan die agterwiel, kon die wa in steil of bergagtige gebiede werk. Die unieke rat het gekeer dat die wa agteruit loop. Joubert & Seuns het die wa in die Vrystaat opgespoor waar Louise Potgieter Boden se oupa dit gebruik het om mielies te vervoer. Die wa is in 1923 gebou en tot 1952 nog gebruik, soos sy laaste lisensieplaat lees. Die bostel het ‘n tipiese Nagmaalwa-voltent, met die opgeswaaide lere wat mens aan die ou kakebeenwa herinner.
Die wa is gerestoureer in Februarie 2019 deur Kobus Joubert se skrynwerkersspan en Erik Holm.
Bokwa
Hierdie bokwa is een van die oudste waens in die versameling en is gebou voor 1900. Die reuse wa is 6m (19 voet) lank en was gebruik om wol te vervoer vanaf Cradock na die BKB-winkel in Port Elizabeth. Die wa kon ‘n vrag van tussen 5 – 10ton vervoer en het ‘n span van 20 – 24 osse benodig.
Die wa het ‘n besonderse kombinasie van onderdekke. Eerstens, die aste is van Brockhouse, van West Bromwich in Engeland. Hy het sy werkswinkel in 1886 geopen. Dan is die onderstel van Ballentine van Keiskammahoek en die rem is die ouderwetse Kaapse- of deurgooitipe. Die twee voorwiele kom van ‘n kleiner wa. ‘n Slim wamaker het ekstra hout op die voorskimmel ingelas om die wabed weer gelyk te kry. Die bostel is die grootste wat in daardie tyd gebou is, maar is egter van ‘n ander wa. Die bokwa is in Desember 2018 deur Erik Holm gerestoureer.